Tarryn Lamb het die land gaande met haar treffer enkelsnit, "Mal Oor Jou", en haar langverwagte album met dieselfde titel is pas uitgereik. Dié veelsydige sangeres is ’n welkome vars briesie wat die Afrikaanse musiekbedryf getref het.
Mal Oor Jou bevat veertien snitte waarvan die meeste uit die bekroonde liedjieskrywer, Johan Oberholzer, se pen kom. Dié betekenisvolle lirieke sal aanklank vind by haar volwasse gehoor.
DIÉ AFRIKAANSE ALBUM IS NOU BESKIKBAAR. Foto: Verskaf
’n Duet saam met die immergewilde Jay du Plessis, Afgrond, en een saam met Kevin Leo, Ed Sheeran se Perfect, is ingesluit vir verdere luistergenot.
Aanhangers sal van die eerste noot op dié album, tot haar stem wegsterf met die laaste note van haar vertolking van Laurika Rauch se bekende treffer, Blouberg se Strand, meegevoer wees.
Saam met die album se uitreiking is ’n splinternuwe musiekvideo ook reeds beskikbaar vir die eerste snit op die album, Vier Woorde.
Die musiekvideo vir Mal Oor Jou, wat in Junie vanjaar vrygestel is, neem ook reeds vir bykans twee maand die nommer 1-posisie in op iTunes.
Met musiek deel van haar wese, het Tarryn se groot deurbraak in die musiekbedryf gebeur as hoofsanger van die gewilde popgroep, BlackByrd. Gedurende 2013 tot 2017 het die groep sewe
SAMA-nominasies ontvang met agt Top 10 radio-enkelsnitte, waaronder All For Me, From The Bottom of My Heart en I Love You, I Just Simply Do.
Tarryn het onlangs ook nog Suid-Afrikaners op die kassie vermaak met haar rol as Kim Adams in die gewilde sepie, Suidooster. Vir dié vertolking het sy ’n gesogte SAFTA-toekenning vir beste aktrise in ’n ondersteunende rol ontvang. Sy het ook reeds klaar verfilm aan ’n rol in die biografiese film van die hartverskeurende Ellen Pakkies-verhaal.
Die album Mal Oor Jou is landwyd beskikbaar by musiekwinkels. Vir diegene wat hul albums aanlyn kry, is dit op iTunes en JOOX beskikbaar.
Volg Tarryn:
Facebook: @TarrynLamb
Instagram: @Tarryn_Lamb
Twitter: @TarrynLamb